

WIE IS ONS?

In hierdie afdeling kan jy meer lees oor ons:
Visie en Missie, ons Geloofsbelydenis, ons Visionêre leiers, en die Kenwaardes van Lewende Woord. Dit sal ook 'n verduideliking gee van Lewende Woord se embleem.
LEER ONS KEN

LEWENDE WOORD KURUMAN:
By Lewende Woord Kuruman is alle lede van die gemeenskap welkom.
Lewende Woord fokus op suiwer Woordbediening, liefdevolle verhoudings en streef om 'n Koningkryk-gesinde gemeenskap te bou.
Ons liefde vir God maak dat ons passievol is oor aanbidding, Skrifgebaseerde onderrig en die werking van die Heilige Gees. Ons het ook 'n sterk fokus op kinderbediening en het ook verskeie ander bedieninge in die kerk ~ insluitend jeug-, vroue- en mansbedieninge.
​
Ons fokus doelbewus op die roeping van die gemeente en glo die bediening kan 'n verskil in die gemeenskap maak.
Ons visie is "Building a Kingdom-minded Community"; dat mense in die Kuruman-gemeenskap se lewenswyse sal belyn met die roeping wat elkeen van God ontvang het. Ons wil een in hart, liefde en doel wees. Ons streef na transformasie deur om God te ken, vryheid te vind, jou roeping te ontdek en 'n verskil te maak (ons missie).
​
Ons het elke Sondag om 09h30 'n diens in Kuruman waar jy kan opdaag net soos jy gemaklik voel. Ons gebed is dat jy God se liefde hier sal beleef en meer van Sy hart sal ontdek. Mag die Heilige Gees jou lewe transformeer en mag jy uitgaan en 'n verandering gaan maak tot eer en verheerliking van God.

Visionêre leiers
Pierre en Elidese Strydom
Pierre en Elidese is albei gebore in Kuruman en het van jongs af geweet hulle is geroep vir die bediening, asook vir Kuruman en die gemeenskap.
​
Pierre het van 18 jarige ouderdom onder die Herder- en Leirskap van Greame Kumm gedien as jeugpastoor. Hulle is sedert 2016 getroud en in 2022 het Greame sy herderskap en visionêre leierskap van die gemeente aan Pierre oorhandig.
​
Pierre het oor die laaste paar jaar 'n pad begin stap met Neville Goodchild van Lewende Woord Bloemfontein en beskou hom ook as mentor.
​
Hulle het Woord en bevestiging ontvang om deel van Lewende Woord Familie te raak, met die hart om ALLE belangegroepe en individue in te sluit.

VISIE
"Building a Kingdom Minded Community"
MISSIE
“Ken God, Ervaar Vryheid, Ontdek jou roeping en maak ‘n verskil.”
Ef. 1:17-18
Geloofsbelydenis
Ons glo in die oorspronklike geskrewe, God-geïnspireerde Ou- en Nuwe Testament, bestaande uit die ses-en-sestig kanonieke boeke van die Bybel. Ons aanvaar dit as die hoogste en finale gesag vir geloof en lewenswandel. (2 Tim. 3:15-16; 2 Pet. 1:20-21; Heb. 1:1-2; Joh. 8:31-32; 1 Thess. 2:13; Ps. 119:9-11, 89, 105)
Ons glo in een God wat vir ewig bestaan as drie persone: Vader, Seun en Heilige Gees. (Gen. 1:1, 26; Matt. 28:19; 2 Kor. 13:14; Joh. 14:16)
Ons glo in Jesus Christus wat van God ontvang en deur die Heilige Gees verwek is en gebore is uit die maagd Maria. Ons glo dat Hy waarlik God is en waarlik mens geword het. Hy het ‘n sondelose lewe gelei. (Jes. 7:14; Matt. 1:18, 23; 1 Pet. 2:22; 2 Kor. 5:21; Heb. 4:15; Fil. 2:6-11; Joh. 1:14, 16:28; 17:4-5; Heb. 2:17-18)
Ons glo dat die mens in God se beeld geskape is, maar dat deur die mens se oortreding hy van God geskei geraak het. Almal wat die ouderdom van morele aanspreeklikheid (toerekeningsvatbaarheid) bereik is self vir hul sondige dade verantwoordelik. (Gen. 1:26; Gen. 3:1-24; Rom. 3:10, 12, 23; Joh. 3:3)
Ons glo dat Jesus Christus, volgens die Skrif, vir ons sonde as plaasvervangende offer gesterf het en dat elkeen wat in Hom glo geregverdig is op grond van Sy gestorte bloed. (Joh. 3:16-19; Rom. 4:25; Rom. 5:8; 1 Kor. 15:3-4; 1 Tim. 2:5-6; Efes. 2:8-9; Titus 3:5; 1 Pet. 1:18-19)
Ons glo dat Jesus Christus fisies (liggaamlik) uit die dood opgestaan het en na die hemel opgevaar het en dat Hy nou as ons Hoëpriester en Voorspraak leef. (Matt. 28; Mark. 16:9-11; Luk. 9:22; Luk. 24:36-40; Joh. 20 & 21; Mark. 16:19-20; Luk. 24:36-53; Hand. 1:6-12; 1 Tim. 3:16; 1 Kor. 15:3-8; 1 Tim. 2:5; Heb. 10:10-12; 1 Joh. 2:1; Heb. 8:6; Rom. 8:34; Heb. 5:1-10)
Ons glo in die persoonlike wederkoms van die Here Jesus Christus. (Hand 1:11; Openb. 1:7; Matt. 24:30; Mark. 13:26; Joh. 14:3; 1 Thess. 1:10; 4:16-17; 2 Thess. 1:7; Joh. 14:18; 2 Pet. 3:3-10)
Ons glo dat almal wat Jesus Christus deur die geloof aangeneem het en hulle van hulle sonde bekeer het, deur die Gees wedergebore is en daardeur kinders van God word. (Joh. 1:12; Joh. 3:16; Rom. 3:20-24; 5:8-10; 2 Kor. 5:19-21; Gal. 3:26; 1 Joh. 5:12-13; Hand. 2:38; 1 Joh. 1:9; Hand. 16:3-31)
Ons glo in die doping in die Heilige Gees, wat ons met krag beklee en ons toegang gee tot die gawes van die Gees waarmee ons ons dienswerk kan verrig. Ons glo in die God-ingestelde bedieninge van die Apostel, Profeet, Evangelis, Herder en Leraar. (Hand. 1:8; 2 Kor. 1:21-22; Rom. 8:9-11; 1 Kor. 12:7-13; Gal. 4:6; Joh. 15:26; Joh. 16:7; Rom. 5:5; Rom. 8:9; 2 Kor. 13:14; Fil. 2:1; Efes. 4:11-13)
Ons glo in die opstanding van beide die regverdige en die onregverdige, die ewige geseëndheid van die vrygekooptes en die ewige verbanning van almal wat die gawe van verlossing verwerp het. (Joh. 5:28-29; Rom. 8:11; 1 Kor. 6:14; 15:51-54; Fil. 3:20-21; 2 Kor. 4:14; Matt. 25:40-46; Mark. 9:44, 46, 48-49; 2 Thess. 1:9; Openb. 20:12-17)
Ons glo in die beginsel van die visionêre leier van die gemeente/bediening wat deur God as leier daargestel is en wat saam met ʼn meervoudige leierskap funksioneer. Die visionêre leier is die primus inter parus (“eerste onder gelykes”). Meervoudige leierskap, bestaande uit die visionêre leier saam met aangestelde ouderlinge, maak voorsiening vir die nodige wigte en teenwigte vir gesonde leierskap. (Efes. 4:11; 1 Thess. 5:12-13; Hand. 11:30, 14:23, 15:28; Tit. 1:5; Jak. 5:14; 1 Pet. 5:1-5; 1 Kor. 16:15-16; Spr. 15:22; Heb. 13:17)
Ons glo dat die leierskap van die kerk die verantwoordelikheid dra vir die toesig en sorg van die lidmate en personeel. Waar nodig, moet die leierskap Bybelse dissipline vir die beskerming van die plaaslike kerk toepas. (Heb. 13:17; Gal. 6:1; Heb. 12:10-11; Jak. 5:20; 2 Tim. 2:24-25; Matt. 18:15-17; Tit. 3:10-11; 1 Kor. 5)
Kenwaardes van Lewende Woord
LIEFDE EN GENADE
Ons sal ten alle tye God se gesindheid van liefde en genade teenoor alle mense openbaar.
EENHEID
Ons is voortdurend daaraan toegewy om onderlinge Goddelike eenheid te bewaar en enigiets te vermy en teë te staan wat onenigheid en verdeeldheid bevorder.
TOEWYDING
Ons gee ons algehele toewyding en getrouheid aan die visie, missie en kernwaardes van Lewende Woord.
RESPEK
Ons ag elke persoon as in die beeld van God geskape te wees en glo dat onvoorwaardelike liefde en respek aan hulle betoon behoort te word, ongeag van hul geslag en kulturele of sosiale status.
DIENSBAARHEID
In alles wat ons doen, openbaar ons ‘n gesindheid van nederigheid en diensbaarheid.
INTEGRITEIT
Ons sal ten alle tye in eerlikheid, opregtheid en integriteit ten opsigte van ons verhoudinge, finansies, tyd, hulpbronne en verantwoordelikhede wandel.
Lewende Woord se embleem verduidelik

Die embleem simboliseer die Woord en die kruis, met die woorde wat van die grafiese vorms geskei is om ‘n sterker herkenbare embleem te vestig. Die Kruis omhels die Woord – die Kruis en die Woord gaan saam – hulle is immers ewig onlosmaaklik verbind.
Die “omhelsing” spreek van die “lewe” in “Lewende Woord”, dit praat van dinamika en beweging. Die kruis is nooit staties – dit nooi ons uit tot ‘n ontmoeting met die Weg, die Waarheid en die Lewe – Jesus Christus. Die kruis is rooi – Jesus was volledig mens; Sy liggaam is aan die kruis verskeur – Sy bloed het rooi die kruis binnegedring. Rooi spreek van passie (Hooglied 8:6-7), liefde (Joh. 3:16) en die lewe (Joh. 15:13). Verder spreek die “omhelsing” ook van Lewende Woord se kernwaardes, veral eenheid, liefde en genade.
Die Woord is blou, die kleur van koninklikes. Die Woord beeld die Here se genadige Koningskap in ons lewens uit (Rom. 2:4). Jesus is die Lewende Woord (1 Joh. 1:1 en Joh. 1:1-3). Jesus is ons Koning! Ten slotte, die teks: “Lewende Woord” (Afrikaans) in vlak, vet letters gedruk skep ‘n meer moderne voorkoms, met “Lewende Woord” (Engels) in donkergrys hoofletters daaronder, sodat ‘n internasionale of Engelssprekende gehoor onmiddellik sal verstaan wat “Lewende Woord” beteken.
Die kruis, as ‘n internasionaal bekende simbool, praat van die persoon van Jesus Christus van Nasaret. Die kruis verpersoonlik dus Jesus en saam met die Woord, óns Jesus, die Lewende Woord.
Ons glo dat die een ware Kerk die hele gemeenskap is van dié wat deur Jesus Christus verlos is, en wedergebore is deur die Heilige Gees; asook dat die kerk op aarde die karakter van die hemelse Kerk moet aanneem. Daarom is die wedergeboorte en die persoonlike belydenis van Christus noodsaaklik vir kerklidmaatskap. (1 Kor. 3:16; 1 Pet. 2:4-9; Efes. 1:23; 1 Kor. 12:12-13; 1 Tim. 3:15; Efes. 2:20-21; Joh. 3:3; Rom. 10:9-11)
Ons glo in die beginsel van ʼn heteroseksuele verhouding tussen ʼn natuurlike man en ʼn natuurlike vrou binne die grense van ʼn wettige huwelik. (Gen. 1:26-27; Matt. 19:4-6; Lev. 18:22; Rom. 1:24 27; 1 Kor. 6:9-11, 7:2; Heb. 13:4)
Ons glo dat die Here Jesus Christus twee verordeninge ingestel het – die Doop in water en die Nagmaal, wat as gehoorsaamheidstappe onderhou moet word tot ’n ewige getuienis aan die belangrikste feite van die Christelike geloof. Die doop is die onderdompeling van die gelowige in water as ʼn belydenis van sy of haar identifikasie met Christus se dood en opstanding, en die Here se Nagmaal is die deelname aan die elemente wat simbolies is van die Verlosser se gebroke liggaam en gestorte bloed, ter herinnering aan Sy offerdood totdat Hy kom. (Matt. 28:19-20; Rom. 6:3-4; Hand. 2:38, 41-42, 8:12, 26-39, 22:16; Matt. 26:26-28; 1 Kor. 11:23-26)
Ons glo dat daar in die Ou Testament voorsiening vir Goddelike genesing gemaak is en dat Goddelike genesing ʼn integrale deel van die Evangelie uitmaak. (Jes. 53:4-5; Matt. 8:16-17; Mark. 16:18; Hand. 10:38, 28:8; 1 Kor. 12:4; Jak. 5:14-15; 1 Pet. 2:24; Ps. 103:3; Heb. 13:8)
Ons glo die Bybel leer ons dat sonder heiligmaking niemand die Here sal sien nie.
Ons glo in die leer van heiligmaking as ʼn definitiewe, dog progressiewe werk van genade, wat by die nuwe geboorte begin en voortduur tot en met die voltooiing van ons verlossing. (Heb. 12:14; 1 Thess. 5:23; 2 Thess. 2:13; 2 Pet.3:18; 2 Kor. 3:18; Fil. 3:12-14; 1 Kor. 1:30; Efes. 5:26; Joh. 17:17)
Die Kerk is oop vir verdere waarheid, wat die Heilige Gees vanuit die Skrif mag verlig. Ons glo dat die Heilige Gees se openbaring nie die gevestigde Bybelse waarhede en waardes sal weerspreek nie en dat dit met die karakter van die God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees, sal ooreenstem. (2 Tim. 3:16-17; Heb. 13:8; 1 Kor. 2:9, 4:6; Joh. 14:6, 26; 16:12-14; Mal. 3:6)